Renkema’s K3/CCC-model facilitates and evaluates the text-editing process in a systematic, standardised and accountable way. The first of our blogs written in Afrikaans, this blog briefly describes the origin, composition and usefulness of this model.

Renkema se K3-model bevorder en evalueer die teksredaksieproses op ’n sistematiese, gestandaardiseerde en verantwoordbare wyse. Hierdie blog beskryf kortliks die ontstaan, samestelling en nut van hierdie model.

Sewentien redakteurs het in die PEGblog van 14 November 2023 oor die toegevoegde waarde van redakteur-wees geskryf. Hulle het onder andere die volgende redes genoem hoekom hulle teksredaksie doen: dit is stimulerend en leersaam; dit verskaf genot om skrywers te help om hulle boodskappe duidelik en professioneel oor te dra; dit is bevredigend om foute wat die betekenis van ’n teks vertroebel, uit te wys en reg te stel sodat die boodskap helder en duidelik oorkom.

Hierdie redes het my onwillekeurig laat dink aan die doel en gevolglik ook die nut van Renkema se K3-model. ‘Hierdie model bevorder en evalueer die teksredaksieproses op ’n sistematiese, gestandaardiseerde en verantwoordbare wyse.’ Die voorafgaande stelling is ’n mondvol; dit word ook nie lukraak gemaak nie, want dit is reeds beproef. Vervolgens verduidelik ek kortliks hoe die model ontstaan het, wat die model behels en hoekom die model nuttig kan wees.

Hoe het die K3-model ontstaan?

In Nederland het prof. dr. Jan Renkema, ’n Hollandse linguis, ’n model ontwerp wat die redakteur help om te bepaal of  ’n teks daarin slaag om die skrywer se boodskap aan die leser duidelik te kommunikeer al dan nie (Van de Poel, Carstens & Linnegar, 2012:38). Die redakteur kan dan hierdie model gebruik om probleme uit te stryk deur ’n sistematiese en teoreties gebaseerde benadering wat die kwaliteit van die teks verbeter; sodoende spreek die teks meer doeltreffend tot die skrywer en die leser. Die drie “K’s” in die K3-model verwys na die drie hoofkriteria wat gebruik word om die kwaliteit van ’n teks te bepaal, naamlik korrespondensie, konsekwentheid en korrektheid. Ná die bekendstelling van die model (Renkema, 1996) het die aanvanklike gebruik daarvan in Nederlandse en Afrikaanse tekste wyer uitgekring. Die verfynde en aangepaste model is wêreldwyd gebruik nadat die model ook in Engels vertaal is (Van de Poel et al., 2012; Linnegar, 2017).

Wat behels die K3-model?

Hierdie model (sien tabel 1 hier onder) bestaan uit 15 ykpunte (evaluation points) wat vanuit twee invalshoeke gelees kan word (Van de Poel et al., 2012: 46). Eerstens kan dit vertikaal deur die bril van die drie hoofkriteria, naamlik korrespondensie, konsekwentheid en korrektheid gelees word; hiervolgens kyk die redakteur byvoorbeeld onder die hoofkriterium “korrespondensie” na die gepastheid van die teks (A1), voldoende inligting (B4), voldoende samehang/opbou (C7); gepaste formulering (D10) en gepaste aanbieding (E13). Tweedens kan die model deur die bril van vyf teksvlakke, naamlik tekstipe, inhoud, struktuur, formulering en aanbieding, gelees word. Hiervolgens kyk die redakteur byvoorbeeld na die gepastheid van ’n teks (A1); genresuiwerheid (A2) en die korrekte toepassing van genrereëls (A3). Die ykpunte is van nommer 1 tot 15 volgens prioriteit georden. Die posisie van die ykpunte bepaal in watter mate aan elke ykpunt aandag geskenk word (Van de Poel et al., 2012: 51). Redakteurs skenk gevolglik eerstens meer aandag aan die gepastheid van die teks en laastens minder aandag aan korrekte spelling en punktuasie om die kwaliteit van ’n teks te verbeter sodat die boodskap meer effektief aan die leser of kyker oorgedra kan word.

Tabel 1: Die K3-model

 

Teksvlakke

Analisekriteria (kwaliteitsvoorwaardes)
Korrespondensie Konsekwentheid Korrektheid
A. Tekssoort 1. Gepastheid van    teks 2. Genresuiwerheid 3. Korrekte toepassing van genrereëls
B. Inhoud 4. Voldoende inligting 5. Ooreenstemming van feite 6. Korrektheid van feite
C. Opbou/Struktuur 7. Voldoende samehang 8. Konsekwente struktuur 9. Korrekte verbindingswoorde en argumentasiestrukture
D. Formulering 10. Gepaste formulering 11. Eenheid van styl 12. Korrekte sinsbou en woordkeuse
E. Aanbieding 13. Gepaste en effektiewe aanbieding 14. Ooreenstemming van teks en uitleg 15. Korrekte speling en interpunksie

(Carstens en Van de Poel 2012: 69)

Op die oog af lyk die model taamlik ingewikkeld en mens kan nie help om te wonder oor die nut van die K3-model nie.

Hoekom is Renkema se K3-model nuttig?

Ek het onder andere die volgende antwoorde teëgekom:

  • Redakteurs kan die model doeltreffend gebruik om hulle eie teksredaksie te evalueer sodat meer effektiewe kommunikasie met die leser of kyker kan plaasvind (Van de Poel et al., 2012: 38).
  • Die model kan gebruik word om redakteurs en studente se redaksievaardighede verder te ontwikkel. Linnegar (2017: 109) het bevind dat die model nagraadse studente se vaardighede om die kwaliteit van teks te verbeter, bevorder het.
  • Studies om die toeganklikheid en tekskwaliteit van medisynevoubiljette (Maske, 2010) en die televisieteks Colour TV (Setai & Pienaar, 2016) te verbeter en te evalueer, het van die K3-model se riglyne gebruik gemaak.
  • Die model is ook aanpasbaar. Dit kan gebruik word as die beginpunt om effektiewe kommunikasie in ’n teks of sekere aspekte daarin te bepaal en te verbeter. Rall (2005) het byvoorbeeld die hoofkriterium van korrektheid weggelaat in ’n studie wat op die effektiewe dokumentontwerp van Afrikaanse letterkundige tydskrifte gefokus het en dus korrespondensie en konsekwentheid vooropgestel het.

Opsommenderwys is die K3-model nuttig omdat dit waarde toevoeg tot redakteurs en skrywers se ervaring en toepassing van teksredaksie; dit help hulle om tekskwaliteit op ’n teoreties verantwoordbare wyse te evalueer en te verbeter ten einde effektiewe kommunikasie met die leser en kyker te bevorder.

Bronnelys

Carstens, WAM & Van de Poel, K  2012  Teksredaksie.  Stellenbosch: Sun Press.

Linnegar, J  2017  The CCC Model (Correspondence, Consistency, Correctness): How effective is it in enabling and assessing change in text-editing knowledge and skills in a blended-learning postgraduate course? In: Cargill, M and Burgess, S (eds) Publishing Research in English as an Additional Language: Practices, Pathways and Potentials.  Adelaide: University of Adelaide Press.  https://doi.org/10.20851/english-pathways

Maske, JT  2010  Die tekskwaliteit van medisynevoubiljette: Teksgerigte vs lesergerigte ondersoek.  Ongepubliseerde PhD in Lettere en Sosiale Wetenskappe.  Universiteit van Stellenbosch.

Rall, S 2005 Veranderende tendense in die dokumentontwerp van Suid-Afrikaanse letterkundige tydskrifte van die 1960’s, 1980’s en 2000’s.  Ongepubliseerde MA-Tesis in Toegepaste Taalstudie in die Fakulteit Geesteswetenskappe.  Universiteit van Pretoria.

Renkema, J  1996  Over smaak valt goed te twisten. Een evaluatiemodel voor tekstkwaliteit.  Tijdschrift voor taalbeheersing, 4:324–338.

Setai, J &  Pienaar, M  2016  Die toepassing van die K3-model op die televisieteks Colour TV, Stellenbosch Papers in Linguistics, 46:121–139. https://doi.org/10.5774/46-0-225

Van de Poel, K, Carstens, WAM & Linnegar, J  2012  Text editing: A handbook for students and practitioners.  Antwerp: UPA University Press.

1012 woorde

The views expressed here do not necessarily reflect those of PEG.

About Annamarie Mostert

Annamarie Mostert is an accredited text editor in English who has obtained her PhD in language programme evaluation. She specialises in the development of curriculum and assessment criteria for academic, fiction and non-fiction texts in Afrikaans and English at local, provincial, national and international level. She has 40 years’ experience in language learning and teaching in primary, secondary and tertiary educational institutions. She participates in research projects and publishes articles and study guides to develop learners’ and students’ language proficiency and literary appreciation. She has also been editing a journal about taxation for the past two years. She loves traveling, learning languages, reading, writing and listening to music.

Annamarie Mostert is ʼn geakkrediteerde teksredigeerder in Engels wat haar PhD in die evaluering van taalprogramme verwerf het. Sy spesialiseer in die ontwikkeling van kurrikulum- en assesseringskriteria vir akademiese, fiksie en nie-fikse tekste in Afrikaans en Engels op plaaslike, provinsiale, nasionale en internasionale vlak. Sy het 40 jaar ondervinding in die leer en onderrig van taal by primêre, sekondêre en tersiêre onderwysinstellings. Sy neem deel aan navorsingsprojekte en publiseer artikels en studiehandleidings om leerders en studente se taalvaardighede en literêre waardering te ontwikkel. Sy is ook vir die afgelope twee jaar betrokke by die redigering van ʼn joernaal wat oor belasting handel. Sy geniet dit om te reis, tale aan te leer, te lees, te skryf en na musiek te luister.

About PEG

The Professional Editors’ Guild (PEG) is a non-profit company (NPC) in South Africa. Since moving to online activities in March 2020, PEG has been able to offer members across South Africa, and internationally, access to an extensive online webinar programme. Continuing professional development remains a key offering and the first PEG Accreditation Test was administered in August 2020 to benchmark excellence in the field of editing.