Redigering aan die hand van Renkema se CCC-model – teorie en praktyk
Die Professional Editors’ Guild (PEG) bied gereelde webinare vir teksredakteurs, proeflesers en vertalers aan. Taalpraktisyns kry gulde geleenthede om verskillende fasette van hul kennis en vaardighede te slyp. Van taalkunde tot stylkwessies, van saketekste tot tegniese dokumente, van gedrukte tot digitale media, van professionele tot etiese gedrag – daar is iets vir elkeen. PEG se nuwe reeks vir praktisyns in Afrikaans is bedoel vir groentjies sowel as gesoute taalpraktisyns wat hulle vakkundigheid wil uitbou of opknap. Kom luister na sprekers wat weet waarvan hulle praat en wie se teoretiese kennis ten grondslag van hul praktiese benadering lê.
Fokus: Die doel is eerstens om deelnemers toe te rus met kennis van die CCC-model. Hierdie model is ’n hulpmiddel om diagnosties te werk te gaan met die evaluering van ʼn teks; dit bied ook ’n sistematiese manier om teksredigering te doen.
Datum: Saterdag, 7 Oktober 2023
Tyd: 10:00 tot 13:00
Plek: Aanlyn (Zoom-webinaar)
Fasiliteerder: Dr Annette de Wet
Oefeninge: Twee tekste sal by registrasie per e-pos gestuur word. Deelnemers moet die tekste sorgvuldig deurgaan, nadink oor die gehalte van die tekste en aanbevelings maak oor hoe dit verbeter kan word.
VPO-ure: Deelnemers ontvang ’n sertifikaat wat hulle bywoning bevestig en wat aandui dat hulle drie uur se kerntyd aan voortgesette professionele ontwikkeling (VPO) bestee het. Diegene wat die webinaar nie bywoon nie, maar net agterna na die opname luister, verwerf 30 minute se diskresionêre VPO-tyd.
Deelnemers wie se registrasie bevestig is, ontvang ’n oefening (twee tekste) ter voorbereiding vir die webinaar.
Meer oor ons fasiliteerder
Annette de Wet het ’n onderwyskwalifikasies aan die Universiteit van Stellenbosch verwerf en het in 1980 haar loopbaan as onderwyser by Hoërskool Vishoek in Vishoek in die Wes-Kaap begin.
Vanaf 1987 het sy Afrikaanse taalkunde in die Departement Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit van die Vrystaat doseer. In 1997 behaal sy haar PhD (met navorsing oor taalverwerwingsteorieë). Buiten die vakgebied sosiolinguistiek, het sy ook professionele taalvaardigheid vir studente in die volgende fakulteite aangebied: Regte, Opvoedkunde en Ekonomiese en Bestuurswetenskappe.
Vanaf 2012 werk sy in die Eenheid vir Taalontwikkeling, (in die Sentrum vir Onderrig en Leer aan die UV) waar sy betrokke was by die program vir akademiese geletterdheid. Die program behels die onderrig van lees- en skryfvaardighede aan studente. Sy was betrokke by die ontwikkeling van leermateriaal vir die kursusse en by die opleiding van fasiliteerders vir die kursusse en van konsultante in die skryfsentrum.
Na haar aftrede het sy ’n redigeringskursus asook ’n kursus in literêre vertaling aan die Universiteit van Stellenbosch deurloop. Deesdae hou sy haar besig met redigering asook vertaling na Afrikaans.
Oor die webinaar
Tydens die webinaar “Redigering aan die hand van Renkema se CCC-model: teorie en praktyk” sal die gebruik van die CCC-model in die redigeringsproses aan die hand van twee uiteenlopende tekste gedemonstreer word. Die model illustreer hoe teksredigering sistematies gedoen kan word.
Koste
Die registrasiekoste van dié aanlyn webinaar word in die tabel uiteengesit.
Affiliasie | Vroegtydige registrasie (voor of op 2 Oktober) |
Gewone registrasie (van 3 tot 5 Oktober) |
---|---|---|
PEG-lede | R275 | R350 |
LAMP-lede* | R475 | R550 |
Niegeaffilieerde individue | R675 | R750 |
* LAMP-lede (www.lampsa.org.za): Association of Southern African Indexers and Bibliographers (ASAIB), ProJourn, Southern African Freelancers’ Association (SAFREA), South African Science Journalists’ Association (SASJA) en die Suid-Afrikaanse Vertalersinstituut (SAVI).
Registreer deur die meegaande registrasievorm in te vul.
Kansellasiebeleid
Indien iemand nie die webinaar na registrasie en betaling kan bywoon nie, is die volle registrasiegeld terugbetaalbaar, mits Sharon Rose teen 12:00 op 6 Oktober van die kansellasie verwittig word. Wanneer die finale aantal registrasies op die vooraand van die webinaar bevestig is, word geen terugbetalings toegestaan nie.
Indien Eskom-beurtkrag op die dag van die webinaar u verhinder om die hele of ’n deel van die webinaar by te woon, is u daarop geregtig om ’n ander webinaar op die 2023-program by te woon. In dié geval moet u self vir Sharon Rose in kennis stel dat u nie die webinaar weens beurtkrag kon bywoon nie en spesifiseer vir watter ander webinaar u registrasiegeld aangewend moet word.
Onthou ook dat indien u nie die hele webinaar op die datum kan bywoon nie, u nietemin die video-opname van die hele aanbieding plus die PowerPoint-skyfies sal ontvang.