This event has passed.

Hedendaagse Afrikaans: taalgebruik, grammatika, interpunksie, ens.

Die Professional Editors’ Guild (PEG) bied gereelde webinare vir teksredakteurs, proeflesers en vertalers aan. Taalpraktisyns kry ’n gulde geleentheid om verskillende fasette van hulle kennis en vaardighede te slyp. Van taalkunde tot stylkwessies, van saketekste tot tegniese dokumente, van gedrukte tot digitale media, van professionele tot etiese gedrag – daar is iets vir elkeen. PEG se nuwe reeks vir praktisyns in Afrikaans is bedoel vir groentjies sowel as gesoute taalmense wat hulle vakkundigheid wil uitbou of opknap. Kom luister na sprekers wat weet waarvan hulle praat, wie se boekekennis die onderbou vorm van hulle praktiese benadering.

Fokus: Die eerste Afrikaanse webinaar, wat op 18 Julie plaasvind, behandel voorbeelde van werklike taaltoffies waarmee praktisyns elke dag te doen kry. Die aanbieder, Tom McLachlan, gaan probleme of foute behandel wat deur webinaargangers self voorgelê is. Hy vra ook wat die hoofdoel van van taalversorging/teksredigering is, en bespreek sy mening daaroor aan die hand van voorbeelde.

Datum: Dinsdag, 18 Julie 2023

Tyd: 18:00 to 21:00

Plek: Aanlyn (Zoom-webinaar)

Fasiliteerder: Tom McLachlan

VPO-ure: Deelnemers ontvang ’n sertifikaat wat hulle bywoning bevestig, asook dat hulle drie uur se kerntyd aan voortgesette professionele ontwikkeling (VPO) bestee het. Diegene wat die webinaar nie bywoon nie, maar net agterna na die opname luister, verwerf 30 minute se diskresionêre VPO-tyd.

Deelnemers wie se registrasie bevestig is, ontvang ’n oefening voor die webinaar.

Oor ons fasiliteerder

Tom McLachlan is ʼn beroepstaalpraktisyn wat die grootste deel van sy loopbaan in die Staatstaaldiens, vir die Suid-Afrikaanse Kernenergiekorporasie en in die Direktoraat Taaldiens van Unisa gewerk het. In die vroeë tagtigerjare was hy ook die hooftaalredakteur van die ensiklopediereeks Wêreldspektrum. Van 1995 tot 2013 was hy lid, ondervoorsitter en voorsitter van die Taalkommissie van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns, en was as sodanig ten nouste betrokke by die negende en die tiende uitgawe van die Afrikaanse woordelys en spelreëls. Hy is die medeskrywer van X-Kit Afrikaans for English speakers, wat met ʼn ATKV-Veertjie bekroon is, en die skrywer van die taalgedeelte van die HAT Taal- en Feitegids. Hy was ook ʼn medewerker aan verskeie woordeboeke. In 2015 ken die Akademie die CJ Langenhovenprys vir Taalwetenskap aan hom toe vir sy bydrae tot die Afrikaanse taalpraktyk en as lid van die Taalkommissie van die Akademie. Sedert sy aftrede is hy ʼn aktiewe vryskuttaalpraktisyn.

Oor die webinaar

Die webinaar rig die vergrootglas op Afrikaans aan die hand van die Afrikaanse woordelys en spelreëls. Terselfdertyd neem dit kennis van die behoeftes van verskillende groepe taalgebruikers, in ’n verskeidenheid genres en style, van koeranttaal tot fiksie tot reklame tot tegniese dokumente. Wanneer is streektaal aanvaarbaar? Wat is Standaardafrikaans, waar kan Afrikaans se borsrok ’n bietjie losser pas? Deelnemers aan die webinaar sal hulle oefening kan toets aan die hand van die aanbieder se eie voorstelle.

Koste

Die registrasiekoste van dié aanlyn webinaar word in die tabel uiteengesit.

Affiliasie Vroegtydige registrasie
(voor of op 11 Julie)
Gewone registrasie
(van 12 tot 16 Julie)
PEG-lede R275 R350
LAMP-lede* R475 R550
Niegeaffilieerde individue R675 R750

*LAMP-lede: Association of Southern African Indexers and Bibliographers (ASAIB), ProJourn, Southern African Freelancers’ Association (SAFREA), South African Science Journalists’ Association (SASJA) en die Suid-Afrikaanse Vertalersinstituut (SAVI).

Registreer deur die registrasievorm in te vul.

Kansellasiebeleid

As iemand die webinaar nie kan bywoon nadat hy/sy daarvoor geregistreer en betaal het nie, kan die volle registrasiegeld terugbetaal word indien die kansellasie Sharon Rose laatstens om 12:00 op 17 Julie bereik. Wanneer die finale aantal registrasies op die vooraand van die webinaar bevestig is, word geen terugbetalings toegestaan nie.

Indien Eskom-beurtkrag op die dag van die webinaar u verhinder om die hele of ’n deel van die webinaar by te woon, is u daarop geregtig om ’n ander webinaar op die 2023-program by te woon. In dié geval moet u self vir Sharon Rose in kennis stel van u niebywoning weens beurtkrag, en spesifiseer vir watter ander webinaar u registrasiegeld aangewend moet word.

Onthou ook dat as u nie die hele webinaar op die datum kan bywoon nie, sal u nietemin die video-opname van die hele aanbieding plus die PowerPoint-skyfies ontvang.

18 July 2023 @ 18:00 - 21:00 Africa/Johannesburg at Online (Zoom) by PEG | Afrikaans Nitty gritty Third quarter Webinar Zoom

Add To Calendar