Hedendaagse Afrikaans: taalgebruik, grammatika, interpunksie, ens.
Die Professional Editors’ Guild (PEG) bied gereelde webinare vir teksredakteurs, proeflesers en vertalers aan. Taalpraktisyns kry gulde geleenthede om verskillende fasette van hul kennis en vaardighede te slyp. Van taalkunde tot stylkwessies, van saketekste tot tegniese dokumente, van gedrukte tot digitale media, van professionele tot etiese gedrag – daar is iets vir elkeen. PEG se nuwe reeks vir praktisyns in Afrikaans is bedoel vir groentjies sowel as gesoute taalpraktisyns wat hulle vakkundigheid wil uitbou of opknap. Kom luister na sprekers wat weet waarvan hulle praat en wie se teoretiese kennis ten grondslag van hul praktiese benadering lê.
Fokus: Praktiese taalkwessies in Afrikaans
Datum: Saterdag, 13 Junie 2024
Tyd: 18:30 tot 20:30
Plek: Aanlyn (Zoom-webinaar)
Fasiliteerder: Fred Pheiffer
Materiaal voor die webinaar: Twee tekste sal by registrasie per e-pos gestuur word. Deelnemers moet die tekste sorgvuldig deurgaan, nadink oor die gehalte van die tekste en aanbevelings maak oor hoe dit verbeter kan word.
VPO-ure: Deelnemers ontvang ’n sertifikaat wat hulle bywoning bevestig en wat aandui dat hulle 2,5 uur se kerntyd aan voortgesette professionele ontwikkeling (VPO) bestee het. Diegene wat die webinaar nie bywoon nie, maar net agterna na die opname luister, sal die formele VPO-tyd gelyk aan een derde van die webinaar se duur ontvang.
Deelnemers wie se registrasie bevestig is, ontvang ’n oefening (twee tekste) ter voorbereiding vir die webinaar.
Opname en uitdeelstukke: Almal wat vir die webinaar registreer, sal na die tyd ’n opname van die geleentheid en ’n PDF van die PowerPoint-skyfies ontvang.
Oor ons fasiliteerder
Fred Pheiffer is al 23 jaar lank leksikograaf. Hy sluit in 1999 by Pharos Woordeboeke aan en werk sewe jaar lank aan die vertalende AEEA Woordeboek Dictionary, die Groot Swarte. By Oxford University Press in Goodwood werk hy aan vertalende skoolwoordeboeke – Engels met isiZulu, met Afrikaans, en met isiXhosa – en aan OUP se topverkoper- Engelse skoolwoordeboek. Saam met sy oud-Pharos-kollega Jana Luther lewer hy in 2015 die sesde uitgawe van die HAT. Sedert 2018 is hy verbonde aan die Buro van die WAT in Stellenbosch. Hy dien in beide die Akademie se Taalkommissie en PanSAT se Nasionale Taalliggaam vir Afrikaans. Voor sy woordeboekdae was Fred onder meer dosent aan die departement Afrikaans-Nederlands by Wits en vertaler en tolk in die Hansardafdeling van die Parlement. Fred het taalkunde, argeologie en soölogie by Ikeys geswot. Sy M-graad het oor Chomsky gehandel.
Oor die webinaar
’n Algemene oorsig sal gegee word van pertinente taalkwessies rakende Afrikaans, soos:
- Dit is eintlik al te laat om ’n absolute houding t.o.v. anglisismes te handhaaf. Mens moet genuanseerd daarna kyk.
- Herstandaardisering van Afrikaans is vir die afgelope 100 jaar al ’n deurlopende proses.
- Die voorgestelde eeuviering van Afrikaans in 2025 – ’n viering vir alle Afrikaanssprekendes of steeds ’n eksklusiewe affêre?
Dan, wat spesifieke taalprobleme betref, wat met oefeninge gepaard sal gaan:
- Tyd om punktuasie uit die dood uit op te wek.
- Die holruggeryde “waar” as betreklik voornaamwoord – daar is ’n veel wyer keuse.
- Daar’s ’n nuwe neweskikkende voegwoord in Afrikaans: moet mens dit gedoog?
- Konsekwentheid in elliptiese sinne: wat jy begin, moet jy klaarmaak.
Koste
Affiliasie | Vroegtydige registrasie1 | Gewone registrasie2 |
---|---|---|
PEG-lede | R295 | R380 |
LAMP-lede3 | R495 | R580 |
Niegeaffilieerde individue | R695 | R780 |
1Vroegtydige registrasie: Voor of op 6 Junie
2Tussen 7 en 11 Junie
3LAMP-lede: Association of Southern African Indexers and Bibliographers (ASAIB), ProJourn, Southern African Freelancers’ Association (SAFREA), South African Science Journalists’ Association (SASJA) en die Suid-Afrikaanse Vertalersinstituut (SAVI).
Registreer deur die registrasievorm in te vul.