Aanbieder: Tom McLachlan
Opsomming
Hoewel Engels veral sedert die begin van die 19de eeu begryplikerwys ʼn wesenlike invloed op Afrikaans uitgeoefen het, het dié invloed skynbaar die afgelope dekade of drie dermate toegeneem dat die eiesoortige idioom van Afrikaans – dit wat hom onderskei van sy taalfamiliesibbe – daardeur bedreig of verander word. In die voordrag sal gepoog word om aan die hand van enkele voorbeelde sodanige verandering in veral gesproke maar ook skriftelike taal te illustreer en aan te dui wat tradisioneel die gangbare alternatiewe is/was. Die doel is nie om soos in die verlede jag te maak op enigiets wat soos Engels lyk nie, maar om die probleem te belig ten einde teksredakteurs daarvoor te sensitiseer in die hoop dat hulle ʼn invloed ten goede kan uitoefen in subredakteurskantore, reklameagentskappe, TV-produksies en dergelike. Die aanbieding sal aan die hand van ʼn kort saamgestelde tekste geskied.
Aanbieder
Tom McLachlan
Tom is ʼn beroepstaalpraktisyn wat die grootste deel van sy loopbaan in die Staatstaaldiens, vir die Suid-Afrikaanse Kernenergiekorporasie en in die Direktoraat Taaldiens van Unisa gewerk het. In die vroeë tagtigerjare was hy ook die hooftaalredakteur van die ensiklopediereeks Wêreldspektrum. Van 1995 tot 2013 was hy lid, ondervoorsitter en voorsitter van die Taalkommissie van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns, en was as sodanig ten nouste betrokke by die negende en die tiende uitgawe van die Afrikaanse woordelys en spelreëls. Hy is die medeskrywer van X-Kit Afrikaans for English speakers, wat met ʼn ATKV-Veertjie bekroon is, en die skrywer van die taalgedeelte van die HAT Taal- en Feitegids. Hy was ook ʼn medewerker aan verskeie woordeboeke. In 2015 ken die Akademie die CJ Langenhovenprys vir Taalwetenskap aan hom toe vir sy bydrae tot die Afrikaanse taalpraktyk en as lid van die Taalkommissie van die Akademie. Sedert sy aftrede is hy ʼn aktiewe vryskuttaalpraktisyn.
