Aanbieder: Fred Pheiffer ​

Opsomming

Die vooruitgang van Afrikaans kan in eeue gemeet word. Teen die middel van die 18de eeu, meen taalhistorici, was die vernaamste kenmerke van Afrikaans reeds gevestig. Dit was dus nie meer Nederlands nie, hoewel die meeste sprekers van hierdie nuutgevormde taal toe nog nie besef het hulle praat iets nuuts nie. Nederlands was steeds die erkende skryftaal. Teen die middel van die 19de eeu word Afrikaans die eerste keer skriftelik vasgelê in die madrassas van die Kaap. Die skrif was nie romeins nie, maar die taal was Afrikaans. Teen die helfte van die 20ste eeu was Afrikaans al formeel erken as ’n amptelike taal van Suid-Afrika, ’n status wat standaardisasie vereis het. Dit is ’n proses wat reeds aan die einde van die vorige eeu in die Paarl begin het. Nou is ons al 70 jaar in Afrikaans se vierde eeu, en die vraag is sekerlik waar Afrikaans hom oor dertig jaar gaan bevind?

Soos hierdie redelik simplistiese beskrywing van Afrikaans se ontwikkeling aantoon, is taalverandering kenmerkend van ’n lewende taal, veral waar taalkontak ’n rol speel. Afrikaans het sy ontstaan te danke aan ’n taalkontaksituasie en het as ’n dominante taal uit dié situasie getree. Sedert die 19de eeu is Afrikaans egter deurlopend in kontak met ’n sterker taal, naamlik Engels, wat natuurlik ook gevolge gehad het en steeds moet hê. Sedert die laat negentigerjare van die vorige eeu geniet Afrikaans nie meer die gewaarborgde steun van die politieke establishment nie, en moes die taal verskeie hoërordefunksies afstaan.

So ’n ontwikkeling beïnvloed standaardisasie, in die sin dat dit nie meer aan die taalgemeenskap opgedring word nie, maar as ’n verantwoordelikheid van die taalgemeenskap self word. ’n Mens sou dit selfs as bevrydend kon beskou. In vroeëre uitgawes van die Afrikaanse Woordelys en Spelreëls (die AWS), die beliggaming van Standaardafrikaans, word die analogie van Nederlands as een van die beginsels van die Afrikaanse spelling voorgehou. Dié beginsel het mettertyd verval en is vervang met die algemeenste gebruik van Afrikaans in die breë Afrikaanse taalgemeenskap as beginsel. En soos die samestelling en gesaghebbendes in hierdie breë taalgemeenskap verander, so gaan die standaard van Afrikaans ook verander.

Maar so is die aard van ‘n dinamiese taal met ’n lewenskragtige taalgemeenskap. Neem as voorbeeld twee oorlewende tale van die eerste mense van ons land. Nama, ’n Khoitaal, het ’n kleinerige taalgemeenskap in die Noord-Kaap, maar ’n veel groter een in Namibië, waar dit die status van ’n nasionale taal geniet. Dié taal boer vooruit. Daarenteen het N|uu, ons enigste oorlewende Santaal, nog net een moedertaalspreker oor, ouma Katriena Esau van Kimberley. Hoewel N|uu die afgelope ruk voldoende opgeteken is en op klein skaal onderrig word, is sy voortbestaan nouliks verseker.

Die funksies van Afrikaans verander soos ook sy gemeenskap verander. Die standaardiseringsproses is een van hierdie funksies, maar solank as wat daar ’n behoefte aan goeie geskrewe Afrikaans bestaan, sal daar ook ’n behoefte aan ’n ooreengekome geformaliseerde Afrikaans wees.

Aanbieder

Fred Pheiffer

Fred is al 23 jaar lank leksikograaf. Hy sluit in 1999 by Pharos Woordeboeke aan en werk sewe jaar lank aan die vertalende AEEA Woordeboek Dictionary, die Groot Swarte. By Oxford University Press in Goodwood werk hy aan vertalende skoolwoordeboeke – Engels met isiZulu, met Afrikaans, en met isiXhosa – en aan OUP se topverkoper- Engelse skoolwoordeboek. Saam met sy oud-Pharos-kollega Jana Luther lewer hy in 2015 die sesde uitgawe van die HAT. Sedert 2018 is hy verbonde aan die Buro van die WAT in Stellenbosch. Hy dien in beide die Akademie se Taalkommissie en PanSAT se Nasionale Taalliggaam vir Afrikaans. Voor sy woordeboekdae was Fred onder meer dosent aan die departement Afrikaans-Nederlands by Wits en vertaler en tolk in die Hansardafdeling van die Parlement. Fred is ’n trotse oud-Jan van Riebeecker en het taalkunde, argeologie en soölogie by Ikeys geswot. Sy M-graad het oor Chomsky gehandel. Hy woon saam met Lise en hul hônne in Suurbraak, die ou LMS-sendingstasie in die Swellendambuurt. Hy ry graag bergfiets – weliswaar nie meer so baie soos toe hy jonger was nie, maar hy’t wel 12 Argusse agter die blad – is ’n kranige Parkrunner en hou ’n klein wynversamelinkie in stand. Fred is ’n verbete koerantleser – hy’s ingeteken op nege plaaslike en oorsese publikasies – en het ’n aansienlike versameling comics, veral Batman, Hellboy en Tarzan. Hy hou van koskook en vroetel in die tuin. Van Brahms kan hy nie genoeg kry nie, maar hy’t ook onlangs vir PJ Harvey ontdek.

Fred Pheiffer