Aanbieder: Dr Phillip Louw ​

Opsomming

Die doel van hierdie bydrae is om ʼn oorsig te bied op die areas van die grootste vernuwing in die Afrikaanse leksikografie oor die afgelope twee dekades, met spesifieke verwysing na standaard- en pedagogiese woordeboeke, aangesien dít die tipologiese klasse is waarin die meeste vooruitgang te bespeur is. Daar sal egter ook na ander woordeboeksoorte en -kontekste verwys word waar dit relevant is vir die bespreking. Eerstens sal daar kortliks na die huidige stand van sake in die Afrikaanse leksikografie gekyk word, in terme van bestaande leksikografiese produkte. Tweedens word enkele opmerkings aangebied oor die professionalisering van die Afrikaanse leksikografie – ’n onderwerp wat nog nie eintlik aandag in metaleksikografiese ondersoek geniet het nie. Die rol van die Buro van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal en die kommersiële woordeboekuitgewers word ook uitgelig. Daarna word kommentaar gelewer op sekondêre en spesifieke leksikografiese prosesse, met verwysing na korpusleksikografie en lemmaseleksie, makrostrukturele vernuwing, en mikrostrukturele vernuwing. Die bespreking van mikrostrukturele vernuwing sluit in geïntegreerde mikrostrukture in vertalende woordeboeke, leksikografiese definisies in verklarende woordeboeke, koteksinskrywings, en aspekte van grammatikale data. Die stand van sake van en ’n toekomsblik op die Afrikaanse e-leksikografie word ook aangeraak. Laastens sal enkele opmerkings oor spesiale woordeboeke gemaak word.

Geskiedenis: Hierdie aanbieding is gebaseer op ’n artikel in die boek ʼn Man met ʼn plan: Huldeblyk aan Willem F Botha. Die was uitgegee saam met Prof Herman Beyer, wie sy toestemming gegee het om dit by hierdie konferensie aan te bied.

Aanbieder

Dr Phillip Louw

Phillip het ‘n DLitt in Leksikografie (met die fokus op skoolwoordeboeke) aan die Universiteit van Stellenbosch verwerf. Hy het sy loopbaan as deeltydse dosent in die departement Afrikaans en Nederlands aan die US begin, waarna hy na die Buro van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal getrek het. Na sewe jaar as mederedakteur van die WAT, het hy in 2005 as senior redakteur by Oxford University Press Southern Africa (OUPSA) aangesluit. Sy eerste projek as redakteur vir OUP, die Oxford Afrikaans-Engels English-Afrikaans Skoolwoordeboek School Dictionary, het die ATKV-Woordwystoekenning in 2008 ontvang. Hy was ook die hoofredakteur van die eentalige Oxford Afrikaanse Skoolwoordeboek wat in 2012 verskyn het. Tot Desember 2022 dien hy as “Uitgewersbestuurder: woordeboeke en letterkunde” by OUPSA, met ‘n bykomende ondersteuningsrol vir die res van Afrika en Australië. In Januarie 2023 neem hy oor as Hoofredakteur en Uitvoerende Direkteur by die Buro van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal.

Vanaf 2013 tot 2019 was hy lid van die Afrikaanse Taalkommissie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns en het meegewerk aan die 11de uitgawe van die Afrikaanse Woordelys en Spelreëls. Sedert 2019 dien hy as bestuurslid van die African Association for Lexicography (AFRILEX) en ook op die wetenskaplike komitee van die European Association for Lexicography (EURALEX) vir 2020–21. In 2022 was hy die medevoorsitter van die OED se Oxford World English Symposium.

Phillip Louw